Hierdie is Carla se broodrolletjies! As die verlange na ‘huis kos’ erg word, word hierdie rolletjies gemaak. Eens het haar ma dit vir haar gebak. En nou bak haar oulike man, Henry, dit vir haar!
Carla is amper soos my eie klein sussie wat baie ver van my af bly. Soms praat ons oor ligsinnige goedjies en soms praat ons diep hartsake. Hierdie resep het sy met my gedeel saam met ‘n stukkie van haar hart.
Ek het al gesê dat ek nie lief is vir die brood hier nie. Ek bak amper elke dag brood. Meestal egte suurdeeg (of dan sourdough) brood. Maar soms is ek ook net lus om iets anders te maak. En ons mis nogal die egte Duitste brötchens. Hierdie smaak nie heeltemal so nie, maar dis lekker! En dit maak die heel lekkerste burgers!
Carla se broodrolletjies:
Deel 1:
1 pakkie Fleischmann Traditional Yeast (8 g) (nie instant nie)
5 ml suiker
1 koppie meel (all purpose werk heel goed)
½ koppie lou melk
½ koppie lou water
Meng alles saam in ‘n groot bak (ek gebruik sommer my KitchenAid se mengbak). Laat staan dit vir 30 minute. Dit gee die gis kan om op te los. Na 30 minute, meng die volgende by.
Deel 2:
4 koppies meel
1 ½ koppies water
10 ml sout
2 eetlepels botter
1. Meng die bestanddele by die eerste mengsel.
2. Knie goed deur vir 10 minute (of 5 minute as jy ‘n KitchenAid het).
3. Laat rys vir 1 uur of tot dubbel in volume.
4. Vorm bolletjies van ongeveer 100 g.
5. Plaas op ‘n gesmeerde bakplaat en laat rys weer vir ‘n uur.
6. Bak teen 350 F (180 C) vir min of meer 30 minute, of tot goudbruin.
Lewer 12 – 15 rolletjies.
Notas:
· Jy kan natuurlik die meel gedeeltelik vervang met volkoring meel. Ek weet dis Carla se heel gunsteling.
Comments