top of page
Anoniem

Ek wil immigreer (deel 2)

Updated: Jul 17, 2020



Jy het nou ‘n paar maande gewag, dalk ‘n nominasie losgeslaan, en jy ontvang ‘n ITA (Invitation to Apply).

Vir hierdie tweede gedeelte gaan jy jou begroting mooi moet uitwerk. Hier is waar die eintlike uitgawes begin en jy gaan nie alles in Namibië kan doen nie. Onthou, ek het in die vorige blog geskryf jy moet solank aansoek doen vir jou paspoort? Hier is waar jy dit sommer al klaar gaan gebruik.

Hierdie is al die dokumente wat ons moes ingee. Dit gaan vir elke persoon en vir elke situasie verskil. Ek gaan ‘n skakel plaas waar jy kan bepaal wat vir jou gaan geld. (https://www.canada.ca/en/immigration-refugees-citizenship/corporate/publications-manuals/operational-bulletins-manuals/permanent-residence/express-entry/applications-received-on-after-january-1-2016-completeness-check.html)

Stap 1: Skeduleer jou mediese toetse (https://secure.cic.gc.ca/pp-md/pp-list.aspx)

Op hierdie huidige stadium is daar net een praktyk in Namibië wat hierdie toetse kan doen. Dis die praktyk van Dr Laurie in Windhoek. Jy sal dalk ‘n paar weke moet wag vir ‘n afspraak.

Die toetse is geensins iets om jou oor te bekommer nie. Hulle toets jou sig, gehoor, reflekse, weeg jou, meet jou lengte, doen ‘n urine toets, HIV & Syphilis toets en toets jou bloeddruk (ek dink daar was nog toetse, maar dis geensins so erg soos jy dink nie). Die konsultasie duur so 60-90 minute per persoon. Onthou asb. om ‘n paspoort foto saam te neem. As jy vergeet, neem die dokter dit sommer in die spreekkamer.

Jy sal ook moet gaan vir X-strale. Dit word gedoen by MediClinic (by Medical Imaging).

Jou bloedtoetse word Pathcare toe gestuur vanaf Dr Laurie se spreekkamer.

Op die stadium wat ons die toetse gedoen het, het Dr Laurie se spreekkamer slegs kontant aanvaar. Jy kan geensins per EFT betaal nie en dit kan nie van jou mediese fonds geëis word nie.

Jy gaan geen fisiese dokumente van die spreekkamer ontvang na die konsultasie nie. Hulle vul al die nodige vorms in en laai dit elektronies op. Hulle sal wel ‘n paar dae later vir jou ‘n bevestiging stuur.

Kostes (vir dokter ondersoeke): N$ 1,800 per persoon (kinders betaal dieselfde bedrag)

Kostes (vir X-strale): N$ 610 per persoon

Kostes (vir bloedtoetse): N$ 660 per persoon

Stap 2: Polisie klaring

Vir elke land waar jy langer as 6 maande gebly het in die laaste 10 jaar, gaan jy ‘n polisie klaring nodig hê.

Dis redelik moeiteloos as jy nog net in Namibië gebly het. Ons het in Walvisbaai aansoek gedoen by die polisiestasie. Dit neem 2 weke om te ontvang. Dit vereis net ‘n vorm wat hulle invul en jou vingerafdrukke wat hulle daar neem. Bêre net jou kwitansie veilig! Sonder dit sal jy nie die sertifikaat kan optel nie.

Kostes: N$ 160

Stap 3: Verwysings briewe van jou werkgewer

Hierdie kan nogal ‘n moeilike stap wees. Jy wil dalk nie nou al jou werkgewer inlig van jou planne nie. Maar sonder hierdie briewe gaan jy nie vêr kom nie. Jou briewe moet ook jou werk ondervinding van die laaste 10 jaar staaf (as jy 10 jaar eis op jou aansoek). So jy gaan dalk ‘n vorige werkgewer moet kontak. Maak net seker oor die formaat van die brief. Dit moet spesifieke inligting bevat. Kyk hier wat op die brief moet wees (https://www.canada.ca/en/immigration-refugees-citizenship/corporate/publications-manuals/operational-bulletins-manuals/permanent-residence/express-entry/applications-received-on-after-january-1-2016-completeness-check.html).

Ek en my man het beide ons eie besighede gehad, so vir ons was die stappe bietjie anders.

Vir my konsultasie besigheid moes ek verwysing briewe van al my kliënte kry. Ek moes betaling bewyse van ten minste 3 maande bewys. Ek moes ook my bankstate stuur om te bewys dat ek betaling ontvang het. Ek het ook ‘n brief ingesluit van die plaaslike instituut (Namibia Institute of Professional Accountants) waaraan ek behoort het om my ondervinding verder te kan staaf.

Vir my man se besigheid moes ek verwysing briewe insluit van sy kliënte. Ek het ‘n inkomstestaat opgestel met alle inkomste en uitgawes van die laaste 10 jaar, die maatskappy se registrasie dokumente en ook ‘n skakel na Namibië se Registrateur van Maatskappye om te bewys dat die besigheid wel geregistreer is in Namibië.

Kostes: verniet (miskien dalk ‘n pakkie biltong of twee vir die briewe se skryf van vorige werkgewers of kliënte)

Stap 4: ‘n Afskrif van jou paspoort

Jy moet saam met jou aansoek jou paspoort se biografiese bladsy instuur. Die een met al jou inligting op. As jy reeds ‘n nuwe paspoort het – wonderlik! Jou paspoort moet minstens 6 maande geldig wees. Ek sou eerder ‘n nuwe een voorstel as jy dalk nog net ‘n jaar of twee het voor dit verval. Om uit ‘n ander land aansoek te doen kan nogal ‘n kopseer wees. Sou jy dringend moet reis terug Namibië toe vanuit Kanada, wil jy nie nog skarrel met ‘n paspoort aansoek nie.

Kostes: N$ 160

Stap 5: Volledige geboorte sertifikate (vir almal in die familie wat saam trek)

Hierdie is jou volledige geboorte sertifikaat. Dit moet jou ma en pa se naam bevat. As jy nie een het nie, gaan vra dit aan by die Ministry of Home Affairs. Hulle het ‘n paar jaar terug oorgeskakel na ‘n nuwe sisteem. Jou geboorte mag dalk nie meer geregistreer wees by hulle nie (myne was nie).

Kostes: N$ 50 (as jy weer moet aansoek doen. Maar ek het meer betaal).

Stap 6: Bewyse van studies

As deel 1 van die proses sou jy akkreditasie vir jou graad laat doen het. By WES sal jy ‘n akkreditasie verslag ontvang. Jy gaan dit hier gebruik.

Stap 7: Bewyse van fondse (POF)

Hier sal jy moet bewys dat jy die nodige fondse het om in Kanada te oorleef vir ten minste die eerste jaar. Die bedrag is nogal heelwat (maar dit hou nie lank nie). Jy kan hier gaan kyk wat die bedrag is wat jy sal moet hê (https://www.canada.ca/en/immigration-refugees-citizenship/services/immigrate-canada/express-entry/documents/proof-funds.html).

Daar is vele besprekings hieroor regoor die internet. Volgens die Kanadese regering moet jy die geld “readily accessible” hê.

Sommige mense het al suksesvol hulle pensioen fondse en “gift deeds” hiervoor gebruik.

Gewis is dit die maklikste om net die kontant in jou bank rekening te hê (as jy so gelukkig is om dit te hê). Hulle vereis 6 maande se bankstate om die fondse te kan bewys.

Kostes: verniet (behalwe bank kostes vir 6 maande se bankstate)

Stap 8: Huwelik sertifikaat (indien nodig)

As jy getroud is, en jou wederhelfte trek saam (onwillig of gewillig), moet jy die sertifikaat oplaai.

Daar was al heelwat besprekings van wat hulle aanvaar. Ek het ons ou geel sertifikaat opgelaai met ‘n LOE (letter of explanation) by vir my van wat verander het (vanaf my geboorte sertifikaat). Jy mag dalk dink dis simpel, maar eerder te veel dokumentasie as te min.

Kostes: verniet (as jy weet waar dit is en nie weer moet aansoek doen nie)

Stap 9: Bewys van familie in Kanada

Ons is gelukkig genoeg om familie in Kanada te hê (wel 5,000 km van ons af). Daardie familielid het ons ekstra punte op ons aansoek gegee. Jy moet dit wel bewys in jou aansoek. Daarvoor moes ons die familielid se geboorte sertifikaat, Kanadese burgerskap en krag rekening indien.

Kostes: verniet (maar dalk ‘n oproep of twee om daarvoor te vra)

Stap 10: Foto’s

Jy moet digitale foto’s indien van almal wat saam trek. Hierdie foto’s het ‘n baie spesifieke formaat. Ons moes dit ‘n paar keer laat oor doen. Ek het later die papier met spesifikasies saam gevat.

Kostes: N$ 250 (vir ‘n gesin van 5)

Stap 11: Finale kostes

Net so voor jy by die ‘submit’ opsie kom, kom die kostes ook. Vandat ons aansoek gedoen het, het die kostes meer geraak. Hier het jy ook ‘n keuse om jou kostes in 2 te deel of om alles as een som te betaal.

Jou finale fooi bestaan uit jou aansoek fooi en jou ‘right of permanent residence’ (RPR) fooi. Jy kan beide fooie op een slag betaal of eers net die aansoek fooi en later die RPR fooi (ons het laasgenoemde gedoen). As jy dit so doen, sal hulle jou laat weet wanneer jy die RPR fooi moet betaal. Moet asb. nie dink as jy die instruksie kry vir jou RPR fooi dit beteken jou aansoek is amper klaar nie. Dit doen nie. Dis maar net nog ‘n stap in die proses. Ons moes dit in April 2019 betaal en ons PR is eers in Sep 2019 toegestaan.

Kostes (net aansoek fooi vir hoof aansoeker): CAD 825 (N$ 10,210)

Kostes (net aansoek fooi vir jou wederhelfte): CAD 825 (N$ 10,210)

Kostes (RPR fooi vir hoof aansoeker): CAD 500 (N$ 6,200)

Kostes (RPR fooi vir wederhelfte): CAD 500 (N$ 6,200)

Kostes (per kind): CAD 225 (N$ 2,785)

As jy nou al hierdie hordes dokumente reg het en het besluit hoe jy jou fooie wil betaal, dan is jy reg vir die groot stap. Dan is jy reg om daai “submit” knoppie te druk. En as jy gedink het jy het die geduld van Job, kan ek jou belowe hier is waar dit getoets gaan word. Volgens die Kanadese regering neem ‘n PR aansoek net 6 maande van indiening to goedkeuring. Daar is ‘n wonderlike webtuiste met die naam van MyImmiTracker (https://myimmitracker.com/). Daarop kan jy gaan kyk hoe lank vat ander mense se aansoeke. Jy sal ook baie vinnig sien dat sommige mense s’n net 4 maande vat en ander mense s’n 18 maande. Daar is geen patroon nie.

Met rukke en stote (en met groot vreugde) sal jy boodskappe kry in jou EE in boks. Jou eerste boodskap mag dalk jou “Biometric Instruction Letter” wees. Gedurende ons proses, het hulle jou binne 2 maande laat weet jy moet jou ‘Biometrics’ gaan doen. Weereens is dit geen aanduiding waar hulle trek met jou aansoek nie. Intussen het die proses al bietjie verander en die instruksie word nou nog vroeër gestuur.

Stap 12: Biometrics

Jy kan hierdie stap nie gaan doen voor jy nie die instruksie gekry het nie.

Jy kan dit nie in Namibië doen nie. Vir hierdie proses gaan jy moet gaan na VFS se kantore in Pretoria of Kaapstad. Jy betaal niks daarvoor nie (dis ingesluit by jou PR aansoek fooi). Jy gaan wel moet betaal om tot in SA te kom.

Jy kan jou afspraak vooraf boek by VFS: https://www.vfsglobal.ca/

Kostes: Verniet (ons het N$ 12,000 vir kaartjies SA toe betaal).

Na jou ‘Biometrics’ mag jy dalk nog ‘n boodskap of twee kry via jou EE in boks. Ons s’n was vir ons RPR fooi. Ek het met elke notifikasie van ‘n nuwe boodskap, daardie EE in boks so gou moontlik oopgemaak met soveel hoop dat dit die goedkeuring gaan wees. Maar moenie te haastig wees nie.

En hier is waar ek eers gaan stop! Hierdie was jou volgende paar stappe na Kanada toe!

As ‘n nota: ek is nie ‘n immigrasie agent nie. Ek kan net vertel en deel wat die stappe is en hoe ons te werk moes gaan om ons immigrasie droom te kan verwesenlik. Die stappe mag dalk dieselfde vir jou wees of heeltemal anders.

179 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page